Wildstroping: Renosterkalfies wees gelaat ...
By Dr MJ on Sep 25, 2009 | In F. Wildlife | 2 feedbacks »
Link: http://www.rhinorescue.co.za/

Follow up:
Alhoewel die litteratuur aansienlik verskil aangaande die presiese aantal renosters in Afrika, is dit tog duidelik dat daar meer as 100 000 renosters in Afrika voor die aanvang van die 1900’s was. Teen 1930 het sake egter skrikwekkend verander met minder as 200 oorlewende wit- sowel as swartrenosters in Suid-afrika.
Hierdie drastiese afname in renostergetalle was hoofsaaklik die gevolg van onbeheersde trofeejag en jag vir die handel in renosterhoring en ander produkte. Dit was veral as gevolg van die visie en bewaringspogings van die destydse Natalse Parkeraad, wat ‘n intensiewe renosterbewarings- en teelprogram geloots het, wat renostergetalle in Afrika van feitlik uitgewis tot ongeveer 9 000 individue teen 1991 en ongeveer 21 000 (17 500 witrenosters en 4 200 swartrenosters) teen einde Desember 2007 gebring het.
Hierdie positiewe prentjie is egter besig om tragies en uiters vinnig te verander gedurende die afgelope twee jaar. ‘n Ongekende toename in die aanvraag om renosterhoring in Asië, het daartoe gelei dat onwettigge wildstroping en genadelose moord op renosters in Afrika sowel as in Asië huidig ‘n ongekende hoogtepunt bereik het. Volgens die internasionale Wêreld Natuurfonds (World Wildlife Fund/WWF) se nuutste publikasies, is daar in Suid-Afrika en Zimbabwe gedurende 2008 meer as 170 renosters deur wildstropers gedood en meer as 75 reeds sedert die eerste ses maande van 2009. Alhoewel renosters in Suid-Afrika nie meer as krities bedreig beskou word nie en wettige renoster-jagpermitte selfs vir jag in nasionale en provinsiale natuurreservate toegestaan word, verminder die getal swart- en witrenosters in die res van Afrika daagliks en is hul steeds uiters krities bedreig buite Suid-Afrika se landsgrense. Hierdie sogenaamde wettige renoster-trofeejag het egter ook nou ‘n “wettige skuiwergat” vir veral Chineese en Vïetnamese kopers geword om Afrika se renosterhorings maklik te bekom.
In Suid-Afrika vind die meeste onwettige wildstroping van renosters onstelllend genoeg in die Kruger Nasionale Park plaas, met na raming meer as sestig renosters sedert Januarie 2008 reeds so gedood. Heelwat van die vermoorde volwasse renosters is dan ook koeie wat veral met ‘n kalf aan die sy, ‘n maklike teiken vir wildstropers is. Indien die koei sterf, sal die kalf by die koei bly en meestal óf die slagoffer van predatore word óf van honger sterf. In sommige gevalle kan ‘n ander renosterkoei die oorlewende kalfie aannneem en verder soog, maar indien sy self in die tydperk sou kalf, word die nuwe kalfie gewoonlik deur die koei verwerp. Na raming is daar reeds meer as ‘n honderd renosterwesies wat nou aan die mens se genade oorgelaat is. Drie van hierdie wesies is deur die Renoster- en Leeu Natuurreservaat te Kromdraai, aangeneem.
Hierdie klein “vaatjies” het egter ‘n ongekende eetlus en ‘n kalfie van drie maande drink ongeveer 16 liter melk per dag terwyl ‘n kalf van ses maande, meer as 25 liter per dag drink. Twee van die reservaat se nuwelinge is wesies direk vanuit die Kruger Nasionale Park terwyl die ander een vanuit ‘n aangrensende park kom. Die oudste kalfie, Shongi, is ses maande oud en was ook gewond tydens die wildstoping waarin haar ma gedood is. Die ander twee kalfies, Victor en Velo, is elk ongeveer drie maande oud. Die koste van net die melkformule om die drie kalfies se magies vol te hou, beloop meer as R700,00 per dag - weereens 'n bewys dat die funksies gratis verrig deur die natuur, onbekostigbaar vir die MENSDOM (met die klem op DOM), is.
2 comments
Comments are closed for this post.
| « Koop NOU jou persoonlik getekende kopie ... | Have a blessed Christmas! » |




