Stekelrige gedoente ...
By DJANI Wildlife Projects on Dec 21, 2009 | In AFRIKAANS
Link: http://www.djaniwildlife.co.za/shop/index.php?act=viewProd&productId=52
Alhoewel hul basiese liggaamsbou soms as baie primitief beskryf word, is krimpvarkies met van die mees fassinerende en vindingryke aanpassings toegerus, waarvan die mees ooglopende is: die stekelrige pels en vermoë om hulself in ‘n perfekte balletjie te rol. ‘n Volwassene het ongeveer 5 000 skerp pennetjies van 2 – 3 cm wat die vel vanaf die voorkop, om die agterkant van die ore en die hele boonste liggaamsoppervlak bedek, uitsluitend die gesig, bene en stert wat met hare bedek is. Die penne is gewysigde hare en om elke pen sterk maar liggewig te hou, is dit met klomp klein luggevulde kompartemente met dun afskortings, gevul. Elke pen vernou tot ‘n dun buigsame nek by die basis en verwyd dan om ‘n klein balletjie te vorm wat in die vel ingebed is. Hierdie unieke konstruksie verseker dat die dun buigsame deel ombuig op impak eerder as om die basis van die pen in die krimpvarkie se eie lyfie te druk wanneer hy aangeval word, sy lyf stamp of as hy val.

‘n Klein spiertjie aan die basis van elke pen beheer sy beweging, wanneer saamtrek word die pen gelig en wanneer dit ontspan sal die pen plat teen die vel gaan lê. Opgerysde penne oorkruis mekaar en vorm ‘n bykans ondeurdringbare versperring, veral wanneer die dierjie in ‘n bal opgekrul is. Laasgenoemde word bewerkstellig deur die bonormaal groot vel en ‘n onderliggende kragtige spierlaag wat die rug bedek. Hierdie spierlaag is baie los aan die onderliggende liggaam verbind, en die dikker en kragtiger kante vorm ‘n kringspierband wat soos die intrekband rondom die opening van ‘n sak, die inhoud dieper in forseer soos wat dit stywer ingetrek word. Soos wat die vel styf oor die lyf getrek word, word die penne outomaties opgelig maar op geen stadium uitgeskiet nie. Krimpvarkies smeer dikwels hul penne met bondels skuimerige speeksel wat moontlik as ‘n geslagsaanlokmiddel dien, óf om roofdiere verder af te skrik deur die sterk reuk en slegte smaak daarvan, óf om parasiete te verminder. Alhoewel krimpvarkies bekend is daarvoor dat hulle groot hoeveelhede parasiete soos bosluise, vlooie en ringwurm dra, neig hierdie parasiete om krimpvark-spesifiek te wees en is nie maklik oordraagbaar aan mense of ander dierspesies nie.
Suid-Afrikaanse krimpvarkies kom gewoonlik alleen, in pare of in klein groepies bestaande uit wyfies en hul kleintjies voor. Hulle is oorwegend inseketend en naglewend maar mag gedurende daglig aktief wees, veral na reën wanneer insekte en erdwurms neig om uit en in die ope te wees. Wanneer hul kossoek beweeg hulle stadig en vind die prooi tussen plantreste of onder die grondoppervlak deur hul skerp reuk- en gehoorsintuie te gebruik. Indien verskrik kan hierdie stekelrige diertjies verrrassend vinnig hardloop. Buiten ongewerweldes, sal hulle ook paddas, akkedisse, eiers, kuikens, vrugte, sade en ander plantmateriaal verorber. Klaarblyklik is hulle onafhanklik van drinkwater. Ten einde energie te spaar tydens die winter of wanneer kos skaars is, besit hulle die vermoë om te kan hiberneer. Paring is gewoonlik ‘n raserige gedoente met baie snorkery. Die wyfie laat sak die penne op haar rug terwyl die mannetjies die penne op haar skouer tussen sy tande vasgryp om te verhoed dat hy terug afgly. Om die proses verder “glad” te laat verloop, is die wyfie se geslagsopening vêr agter geleë terwyl die mannetjies se verlengde geslagsorgaan vêr na vore geleë is. Kleintjies word in ‘n nes, naak met penne maar met toe oë en ore gebore. Die pennetjies lê egter net onder die vel wat met groot hoeveelhede vloeistof gevul is om te voorkom dat die wyfie tydens geboorte beseer word.
ANDER NAME: Krimpvarkie; South African hedgehog; Hedgehog; Hérisson d’Afrique du Sad; Südafrikanischer Igel; Shoni; Thlong; Umahau; Thoni; Inhloni.
DUBBELBLAD soos in boek ("SOOGDIERE van AFRIKA - Ontdek 101 spesies")
| « Vervolg omdat ons hulle nie verstaan nie ... | A "prickly" business ... » |



