Alle leeus het kolle ...
By DJANI Wildlife Projects on Jan 15, 2010 | In AFRIKAANS | 1 feedback »
Link: http://www.djaniwildlife.co.za/shop/index.php?act=viewProd&productId=52
DUBBELBLAD soos in boek ("SOOGDIERE van AFRIKA - Ontdek 101 spesies")
... Alhoewel die leeu as die “koning van die oerwoud” beskou word, kom leeus nie natuurlik in woude voor nie, maar vanaf semi-woestyn tot bosveld of savanne habitat. Die leeu is Afrika se grootste karnivoor en kat; die tweede grootste kat op aarde naas die tier en die enigste katspesie wat leef en jag in groepe. Beide mannetjies en wyfies kan brul (hoorbaar tot sovêr as 8 km), en beide geslagte verdedig ook die trop se gebied. Slegs volwasse mannetjies het egter maanhare (± 16 cm lank), wat leeus die spesie met die grootste geslagsdimorfisme in enige kat of enige ander karnivoor maak. Die maanhare verdonker met ouderdom en spanning weens ‘n gebrek aan voedsel of beserings, is gewoonlik die oorsaak vir die verlies van maanhare by volwasse mannetjies. Mannetjies van die Senegalese leeu (P. l. senegalensis) van Wes-Afrika het feitlik geen maanhare nie terwyl die berugte mensvreter-leeus van Tsavo in Oos-Afrka, almal maanhaarlose leeumannetjies was. Alhoewel die leeu as Afrika se grootste mensvreter beskou word, sal ‘n leeu ‘n mens meestal net aanval indien die leeu honger is, uit vrees of om die welpies te beskerm. Ten einde kompetisie te verminder, byt leeus altyd die onbewaakte kleintjies van ander predatore soos luiperds, jagluiperds en hiënas dood, maar eet hulle nie altyd nie.
...
Alle leeus het kolle. Welpies word met kolle gebore en alhoewel vaag, bly die kolle in volwassenes behoue. Die rangskikking van die swart snorbaardspikkels op ‘n leeu se gesig is net so uniek soos vingerafdrukke by mense. Hulle is die enigste grootkat-spesie met ‘n haarklossie op die punt van die stert en dit verberg ‘n horingagtige nael of uitsteeksel. Leeus het die langste dragtyd van alle katte en is ook die katspesie waar welpiemoord (meestal deur nuwe dominante mannetjies) algemeen en wyd voorkom. Witleeus, inheems tot suiderlike Afrika, is genetiese mutasies en nie albino’s nie omdat hul oë gepigmenteerd is en nie pienk-rooi nie. Die normale swart snorbaardspikkels, stertklossie, neus en lippe is ligter in hierdie skaars leeus en hul voetkussinkies is pienkerig en nie donker grys nie. (... lees verder in die boek ...)
1 comment
Comments are closed for this post.
| « Persecuted because they are poorly understood ... | Vervolg omdat ons hulle nie verstaan nie ... » |



