Vervolg omdat ons hulle nie verstaan nie ...
By DJANI Wildlife Projects on Jan 15, 2010 | In AFRIKAANS | Send feedback »
Link: http://www.djaniwildlife.co.za/shop/index.php?act=viewProd&productId=52
Vlermuise is ware kampioendiere aangesien hulle die enigste soogdiere is wat in staat is tot volgehoue vlug en buiten voëls, is hulle die enigste werweldiere in staat tot kragtige vlug; hulle verteenwoordig nagenoeg ‘n kwart van alle soogdierspesies op aarde; het al die vernaamste landhabitatte ontgin buiten die poolstreke, hoogste berge en ‘n paar afgeleë eilande; en besit uitsonderlike sintuie, insluitend die vermoë van eggolokalisering in sommige spesies. Verder kan hulle hiberneer; hul liggaamstemperatuur verlaag of verhoog; lewensvatbare sperme stoor (mannetjies en wyfies); inplanting van bevrugte eierselle vertraag, dus die tyd van geboorte vertraag; en bowenal is hulle noodsaaklike bestuiwers, saadverspreiders en kontroleerders van insekgetalle (sommige vlermuiskolonies verorber tot 250 ton insekte per nag). Die beste is – hulle doen dit alles in die nag terwyl hulle gedurende daglig rus en hulself versorg deur hul drielobbige snytande as kamme te gebruik.

Sundevall se bladneusvlermuis is ‘n klein, inseketende vlermuis met groot ore, klein oë en ‘n kenmerkende neusbladstruktuur wat ‘n belangrike rol in eggolokalisering speel en as sulks in suksesvolle voeding. Baarbenewens het hulle ‘n interfemorale (stert) membraan wat vanaf die stert sydelings strek langs die bene af to by beide voete. Dié membraan bevorder beweegbaarheid, mag ‘n rol in die vang van prooi speel, dien as ‘n stoorsakkie vir gevange prooi of om die kleintjie tydens geboorte in te hou. Hierdie klein vlermuisies kom oor die algemeen in savanne-boomveld, bosveld en kuswoude voor, meestal geassosieerd met riviere en ander oop waterbronne waarvan hulle gereeld water in vlug oplek. Alhoewel hulle groeplewend is en dikwels kolonies van ‘n paar honderd of selfs duisende vorm ((± 500 000 in een grot in Gaboen), mag hulle in klein groepies van 2 – 3 vlermuise voorkom, dikwels rustend in dakke, onbenutte geboue, grotte of enige ander skuiling en mag ‘n probleem word in huise weens die onaangename reuk van die ghwano.
Hulle voed hoofsaaklik op vlieënde motte wat gevang word deur ‘n hoë-piek eggolokaliseringsfrekwensie, met die kliekgeluide deur die vlermuis se larinks gevorm en onhoorbaar vir meeste motte. Die neusblaaie is klankweerkaatsers wat die eggolokaliseringsimpulse vorentoe straal, amper soos “soekligte”, terwyl die ore die terugkomende eggo optel. Sommige insekte wat sleg proe waarsku die vlermuise deur hul eie ultrasoniese klieke uit te stuur, terwyl ander die vlermuis se sonar smoor deur klanke te produseer wat die eggo van groot voorwerpe naboots. Sundevall-vlermuise is egter bedrewe en hoogs beweegbare vlermuise, maar weens hul relatief kort breë vlerke, vlieg hulle stadig en word dikwels deur voertuie wat snags jaag, doodgery. Wêreldwyd is vlermuise dikwels swak begrypte soogdiere en word hulle weens menslike onkunde vervolg, doodgemaak deur stropende jagters, vergiftig, hul habitat vernietig, terwyl menslike versteuring by slaapplekke ook hul oorlewing bedreig.
DUBBELBLAD soos in boek ("SOOGDIERE van AFRIKA - Ontdek 101 spesies")
No feedback yet
Comments are closed for this post.
| « Alle leeus het kolle ... | Stekelrige gedoente ... » |



